Ek het vroeër genoem dat ek ‘n Christian Biker buurman het. Hy is nie ‘n Christen wat toevallig ‘n baaiker is nie. Hy het ‘n baadjie en alles om hom spesifiek te identifiseer as ‘n “Christian Biker”. Dit is seker maar die stigma van suip, saag en wheelie wat aan baaikers kleef wat hy probeer vermy. Die haakplekkie is dat hy probeer om in elke ander opsig die “suip, saag en wheelie” beeld uit te straal met leer baadjies met badges op en tossels aan die handvatsels en so aan. Ek kry die gevoel dat hy probeer sê “Ek is ‘n moer rowwe ou, behalwe dat ek nie ‘n moer rowwe ou is nie”.
Die rede hoekom ek die ding genoem het, is dat ek tog eendag op ‘n motorfiets met ‘n moerse motor en patetiese uitlaatpype moet klim en hom bietjie ‘rev’. Dit moet fokken lekker wees. Nou vra jy dalk hoe ek kan weet dat dit fokken lekker moet wees? Hoekom anders sal ‘n ordentlike Christen seun sy buurman en sy kinders 04:30 op ‘n Saterdag en Sondag oggend wakker raas met sy motorfiets deur die ding herhaaldelik te ‘rev’ ‘rev’ ‘rev’ en dan weg te jaag sodat jy hom tot drie blokke vêr (op my ere woord, drie blokke) kan hoor? Alles in hom moet veg daarteen, maar as daai motor onder hom begin vibreer kan hy homself net nie help nie – dit is net te bliksems lekker, en hy sal later vergifnis vra. Die ander moontlikheid is dat hy net ‘n selfsugtige drol is, maar dit wil ek nie glo nie. Voor jy vra, hy is nie doof nie, ek het al met hom gepraat.
Dit was my vrou wat begin spekuleer het dat hy dalk ‘n bietjie meer “stimulasie” kry uit die motorfiets as wat sedelik is, en my op die gedagtestroom laat af dryf het.
Is jy ‘n baaiker, of dalk ‘n Christian Biker met ‘n moerse motorfiets? Is dit regtig so lekker soos dit vir my voorkom? Hoe regverdig jy die geraas? Is dit dalk ‘n “loud pipes save lives” ding wat ek nie verstaan nie? Is dit dalk net my buurman, en die res van julle sit ordentlike pype op julle fietse en ry stil-stil tot julle op die hoofweg kom of iets?
Voor jy nou heeltemal mal gaan in die kommentaar seksie – ek is maar net nuuskierig, dit is nie asof ek nou alle baaikers haat met ‘n passie of iets nie. Ek het nog nie eers gaan kla oor die geraas nie, ek is maar net nuuskierig.
Geen.

