Ek is baie dankbaar dat ek nie meer in ‘n kantoor werk nie. Vir die arme skepsels wat nog in ‘n kantoor werk en geforseer is om met ander mense oor die weg te kom het ek ‘n paar handige wenke.
Wie om te vermy:
1. Die Kantoor Skinderbek: Sy (ja ‘sy’ want mans is nooit, ooit die kantoor skinderbekke nie) het altyd ‘n sappige storie oor iemand se privaat lewe wat sy wil deel. Sy sal, selfs al rook sy nie, by die rook hoekie, stoep of toilet uithang waar sy ‘n gehoor het vir haar stories. Dit mag dalk aan die begin vir jou vreeslik vermaaklik wees maar as jy saamstem met enigiets wat sy sê, sal sy dit vir ander mense laat klink of jy ook dink die baas/skoonmaker/human resources persoon is ‘n groot poephol en verdien om afgedank te word. Jy sal gereeld aangegluur word deur mense met wie jy geen kontak het nie. Haar gunsteling woorde is: “As iemand iets van my wil sê, moet hulle dit in my gesig sê!”
2. Die Kantoor Gatkruiper: Hy is onnodig vriendelik en vol komplemente. Hy is ‘n gatvlieg. Moet nie iets voor hom doen wat teen maatskappy reëls is, onwettig is, of enigiets in daai lyn nie. Onthou, hy is nie net ‘n gatkruiper by jou nie en enige wandaad van jou kant sal vir hom soos Kersfees wees want hy kan nou ordentlik gaan gatkruip by jou baas. Vermy die ou soos die pes, dit gaan moeilik wees want hy kom voor as ‘n baie lekker ou, maar onthou, hy is skuim!
3. Die Kantoor Evangelis: Jy kan haar uitken aan die magdom poskaartjies, beertjies met boodskappies en engeltjie ‘screensavers’ op haar rekenaar. Sy is basies skadeloos, tot sy jou e-pos adres het en hom bestook met elke engeltjie versierde, traan trekker, petisie belaaide kak wat sy in die hande kan kry. Sy sal jou lewe hel maak maar met een groot verskil, sy sal diep onder die indruk wees dat sy besig is om jou siel te red en jou dus ‘n moerse guns doen.
4. Die dom maar aggressiewe ou: Met hierdie ou moet jy slegs oor die weer gesels en of daar papier in die fotostaat masjien is. Enige gesprekke oor geloof, sport, 4×4 voertuie, politiek, seks of wat jou gunsteling roomys geur is gaan in ‘n gebliksem ontaard. Hy is amper altyd Afrikaans en het so plat kuif. Dink Pierre Koetzer in werksklere. Hy sien amper enigiets as ‘n persoonlike aanval en het al begin vermoed dat mense weet hy is deur die kak en is baie selfbewus daaroor. Vermy hom. Moet nooit ooit ‘n drankie saam met hom geniet nie. Die laaste bietjie selfbeheersing wat hy het sal soos mis voor die son verdwyn en hy gaan jou bliksem.
5. Die Beterweter: Die ou is nie noodwendig gevaarlik nie maar gaan jou so gatkramp gee dat jy hom wil aanrand. Jy kan hom uitken aan woorde soos “Dis nog niks”, “Nee ek hoor wat jy sê maar……” en “Moet jy nie eerder…..”. As jy natuurlik groot kak wil begin kan jy die beterweter aan die dom aggressiewe ou voorstel met iets soos “Haai Dawie, ontmoet vir Gert, hy is ‘n agnostikus en sê sy Isuzu is die beste 4×4 ooit gemaak”. Verlaat dan die kantoor vir ‘n ruk want daar kom kak.
Ek sal hierdie lys ook stelselmatig langer maak so kyk self uit vir ‘tipes’ en help my om die kantoor lewe meer draaglik en minder gevaarlik te maak.
Geen.


