Voorspoedige Nuwe Jaar!

 

Ek wens al die SG lesers ‘n MOERSE nuwe jaar toe. As julle hard partytjie gehou het, hoop ek die babelas is nou al verby, en dat julle weer op soliede kos is en dat die long-terugplanting goed gegaan het.

Ek het die nuwe jaar soos ‘n regte ou oom gevier – “Nag skat” gesê met ‘n piksoen op my vrou se wang so tien minute oor twaalf, en bygelas “Ek hoop die fokkers hou gou op klappers skiet….. lekker slaap”.

Dalk moet ek volgende jaar ‘n beter plan maak, so kan dit nie aangaan nie. As jou Wedergebore Biker buurman jou ore aansit op nuwe jaar dan weet jy jy raak oud.

 

Dealbreakers?

Kom ons gestel jy wil vir jou ‘n tweedehandse kar koop. Kom ons gestel ook dat jou verkoopsman die enigste eerlike tweedehandse kar verkoper is, en dat hy so saam met jou om die kar stap en al die foute uitwys. Op watter punt besluit jy “Nee bliksem, dit is darem te erg!”? Ruitveërs is maklik om te vervang, gladde bande maak die ‘deal’ minder aanloklik, maar iets soos “Die brieke werk net as jy die pedaal pomp terwyl jy die handrem op het en die hoofligte flits”, is mos ‘n stappie te vêr.Sou jy dieselfde met ‘n voornemende lewensmaat kon doen?

Ek wens mense het so bietjie langer gedink voor hulle ‘n verhouding met ‘n ander mens aanknoop. Ek praat nou nie van psigometriese toetse en ‘n kriminele rekord navraag nie. Hier praat ek sommer van die selfde sorg waarmee jy ‘n kar koop. Daar is gereeld mense in my lewe wat onmoontlike dinge probeer met verhoudings. Hy is ‘n konserwatiewe NG Christen en sy gunsteling en byna enigste tydverdryf is om groot beesfilette op die braai te gooi. Sy is ‘n deeltydse prostituut en voltydse Reiki “praktisyn” en ook ‘n streng vegetariër. Hoekom is hulle vriende en familie die enigstes wat kan sien HIER KOM KAK?

Daar is natuurlik “versagtende omstandighede”, en ek wil graag die wat ek tot dusver kon identifiseer noem:

  1. Die verkeerde koppie doen die dinkwerk. Dit gebeur maklik. Daar is geen brein wat tik onder die klein bloupers helmpie nie, maar hy is net SO BLIKSEMS VASBESLOTE! As jy net op ‘n plek kan kom waar jy besef die kleinman dink namens jou is jy goed op pad na herstel. Die groot fokop kom in waar jy deurmekaar raak en ‘ware liefde’, en ‘sielsgenoot’ begin dink omdat die klein koppie jou regte kop van noodsaaklike suurstof beroof.
  2. Skuldgevoelens. Gewoonlik omdat die klein koppie soveel noodsaaklike bloed en suurstof uit jou brein uit getrek het dat jy vir die eerste week van jou verhouding in ‘n koma was, en toe jy wakker word is julle saam ingetrek in ‘n huis wat julle saam gekoop het. Nou voel jy heeltemal te skuldig om net te hardloop, al is sy eintlik lesbies en glo nie in bad nie.
  3. Te veel romantiese komedies in jou dvd rak. Dit gebeur net in flieks waar sy dronk oor jou gunsteling hond ry en dan in die kruik opgooi waarin jy jou oorlede ma se as bêre, maar dan trou julle na ‘n grappige en musiek gevulde 6 maande. In die regte lewe is sy voortaan bekend as “beskuldigde nommer een” en die enigste rede om voor ‘n landdros te verskyn is om die fokken heks se vonnis te hoor.
  4. Jy glo in sprokies of die noodlot of iets. Vir een of ander rede weier jy om te glo dat die bitch op jou pad gestuur is om jou te straf vir die fokker wat jy is, of sommer net omdat jy, soos in punt nommer een, nie fisies in staat was tot gedagtes nie. Jy wil nie glo dat jy so gou moontlik oor hierdie duur lewensles moet kom en iemand gaan soek wat regtig lief is vir jou nie – iemand waarmee jy vir 20 minute kan gesels sonder om ‘n argument te begin. Jy glo alles is “meant to be” so jy vat jou pyne daagliks, maar altyd met die hoop dat sy more sal besef hoe perfek julle eintlik is vir mekaar, en dalk ‘n happie van jou gebraaide fillet sal vat.

Ek het nie ‘n enkele oplossing nie. Jy kan ook nie voor die tyd vir jou vaste reëls neerlê nie, want sekere meisies is so spesiaal, dat jy verby die vlekkies op die kriminele rekord kan kyk, of dalk bereid is om te eksperimenteer met rubber toebehore vir die slaapkamer – al is dit hoe seer.

Twee Honderd Duisend Kyke!

Snaaksgenoeg staan op 200 000 “pageviews”! Ongelooflik. Toe ek en Trilwillem hom begin het, was ons baie skepties. Die idee was nooit om verkeer na te jaag nie. Die vermoede was dat dit net te skurf vir konserwatiewe Afrikaners sou wees, en nie rof genoeg vir ouens wat “P**S” kan sê of tik sonder om te skroom nie.

Snaaksgenoeg is nie naastenby die mees populêre Afrikaanse blog nie, en ek glo dit sal ook nooit wees nie, maar die reaksie tot dusver is vir my verstommend.

Dankie aan die gereelde besoekers en al die lekker kommentaar. Julle het al soveel keer my dag gemaak!

Wat is julle gunsteling ‘posts’ tot dusver? Sit ‘n skakel na die ‘post’ in die kommentaar hier onder.

 

Movember, en wat jou snor van jou sê.

Movember raak al hoe meer populêr. Ek sien oral ouens wat so ietsie kweek op hulle bo-lippe. Teen die snorre het geen beswaar nie, en dit is mos nou vir ‘n goeie doel en so aan. Die enigste haakplekkie is dat dit rond donder met my vermoë om mense op te som, want jou snor sê so ontsaglik baie van jou. Probeer een kry wat darem iets positief sê. As jy ‘n laerskool onderwyser is, moet tog om Hemels naam nie vir jou die “pedofiel snor” groei nie! Hier volg ‘n lys.

  • Die “handlebar”: Trokdrywers, tou-trok drywers en Christen bikers. Die snor laat jou redelik rof lyk. Jy is lief vir brandewyn en Coke, en jou gunsteling pick-up line is “Lê jy of mors jy my tyd?” of “Ken jy vir Jesus?”.  As jy ‘n tandarts of rekenmeester is gaan die een baie kak lyk op jou.
  • Die welige rooierige een: Pedofiel. Soms Kalahari jagter, maar meeste van die tyd net pedofiel. As jy hom paar met ‘n bril wat donker word in die son sal die polisie jou summier toesluit, dit is basies ‘n bekentenis. Jy lyk soos ‘n polisie Identikit.
  • Die netjiese rooierige een: Jy is ‘n eks-samjoor of moerige wiskunde onnie. Jy politoer jou skoene self, want die bediende gaan net kak aanjaag, en jy wil nie soos ‘n donderse hippie lyk nie. Jy is bewus van ander naskeermiddels, maar daar is vir jou eintlik net Old Spice, die res is uitsluitlik vir homoseksuele mans.
  • Die dun en pynlike Clark Gable: Jy weet vir ‘n feit dat jy bliksems sexy is. Jy kan nie verby ‘n spieël stap sonder om so skelm loer te vat nie – en nadat jy het, kan jy nie wag om jouself alleen te kry nie. Jy is die tipe ou wat jou lippe liggies tuit as iemand ‘n foto van jou neem.

Kaptein span my seil.

Vir die van julle wat lekker saam sing met Kurt Darren se treffer, “Kaptein span die seile”, het ek slegte nuus. Daar is ‘n gerug wat die rondte doen dat die liedjie gaan oor ‘n man wat een of twee te veel skote donker rum, ook bekend as Captain Morgan, gedrink het en dat die rum hom soos gewoonlik jimpel (jags en simpel, ‘n slegte kombinasie) maak. Die “seile” is natuurlik sy denim broek, wat van indigo seil gemaak is, en dit span nou styf. “‘n Eiland vol meisies in bikini’s” maak eintlik die hele ding duidelik.

 

Subscribe to RSS Feed