Ek sou dit nooit kon raai nie, maar Snaaksgenoeg het ‘n groot groep aanhangers uit die elektrisiëns gemeenskap! Die hoeveelheid ‘hits’ vir “draadtrek foto’s” is verstommend. Ek stel nooit die Snaaksgenoeg lesers teleur nie, en hier is so paar van manne wat weet hoe dit gedoen word. Die gereedskapsgordel lyk vir my opsioneel, en gebaseer op my klein hoeveelheid navorsing, het jy gewoonlik twee ouens nodig om draad behoorlik te trek. Jy kan in die opelug draad trek, in klein beknopte spasies, en sommer op ‘n teater balkon!
Arm omdat jy lelik is of lelik omdat jy arm is?
Ek was nou die dag by die OR Tambo lughawe en het vroeër klaar gekry as wat ek verwag het. Terwyl ek gewag het vir die verkeer om te bedaar, het ek so bietjie staan en kyk hoe die vliegtuie land en opstyg. Daar kom staan toe ‘n ou in ‘n blou oorpak met ‘n toebroodjie in elke hand. Dit is vir my redelik duidelik hy werk daar by die lughawe, en nie iets hoog op soos ‘n vliegtuig-mechanic nie, hy sorteer dalk bagasie in ‘GROOT’ en ‘KLEIN’ bokse of iets. Dit tref my toe hoe vinnig en verdoemend ek die arme man geoordeel het. Alles net as gevolg van sy voorkoms.
Hoe hy gelyk het was duidelik vir my baie belangrik gewees as ek sommer net daar en dan besluit die ou sou nooit in der ewigheid enige sukses kon behaal nie. Hoe het hy gelyk? Man…….. hy was lelik. Ek bedoel lelik – as ek ‘n ander beskrywing kon gebruik het, sou ek, want ek voel nou nog so tikkie jammer en skuldig. Sy gesig was nie simmetries nie. Die een oog was bietjie groter as die ander een, en hy was maer, baie maer. Sy vel het so styf gespan oor sy gesig sodat sy vel amper deurskynend gelyk het. As jy ‘n groot vleeskleurige ballon oor ‘n skedel getrek het en met ‘n skerp mes die oog, neus en mond gaatjies gemaak het, dan is jy naby. Sy hare was yl, en daar was so kol op die kant wat vir my gelyk het soos brandsiek. Ek weet nie of mense brandsiek kan kry nie, maar dit is hoe dit gelyk het.
Nou laat die ou my wonder. As hy in weelde groot geword het, sou hy beter gelyk het? Sou hy, omdat hy beter gelyk het, dalk slimmer of meer betroubaar gelyk het en vinniger bevordering gekry het of dalk net ‘n beter werk? As jy vir hom ‘n netjiese suit aangetrek het, sou die eerste woord in jou kop nie ‘meneer’ of ‘direkteur’ wees nie, maar ‘beskuldigde nommer een’. Ek het geen idee hoe vindingryk of intelligent hy is nie, maar as hy aantreklik was, sou ek nie diep binne geglo het dat hy nog nie sy volle potensiaal bereik het nie?
Daar is tog lelike mense wat baie suksesvol is. As jy vir Donald Trump in ‘n blou overall sit met ‘n naam op die sak soos “Jerry”, sou ek not ‘n donder my kar by hom gelos het nie. Ek ken nie sy geskiedenis nie, maar ek sou sommer geld daarop sit dat hy nie arm begin het nie. As hy arm groot geword het sou hy ‘n genie moes wees, want op ‘looks’ alleen was hy in my opinie heeltemal gefok.
Ek sien myself as baie ‘open minded’, en objektief, so die feit dat ek iemand sommer so kan oordeel pla my. Hoe erg oordeel jy mense as gevolg van hulle voorkoms? Hoeveel van ‘n gebrek is dit om lelik te wees? Hoeveel van ‘n voordeel is dit om mooi te wees? Mooi meisies kan wegkom met amper enigiets! ‘n Voorbeeld: So paar jaar terug was daar ‘n vrou wat haar gesin op ‘n gruwelike en deurdagte manier vermoor het, maar toe hulle haar die doodstraf wou gee was daar ‘n vreeslike bohaai. As dit ‘n gespierde swart man met ‘n cheese-kop was sou hulle ‘n ‘same day service’ begin het op ‘death row’, maar die vrou het amper met moord weggekom – ja hulle het haar toe tereggestel, maar dit was amper.
Slegte diens, en slegter klante.
Een van my groot irritasies is moeilike klante. Ek praat nou nie van mense wat nie gekroek wil word nie. Ek praat ook nie van mense wat ‘n klomp geld uithaal en die beste verwag nie. Nou praat ek van mense wat die R89.00 “All you can eat Buffalo wings” by Spur gaan bestel, en kelners verwag met wit lappies oor hulle arms, strikdassies en hoog-Engelse aksente. Hulle verwag die hoendervlerkies moet opdaag op ‘n trolletjie, en dan pluk die kelner die silwer skottel af met ‘n swierige beweging en sê dan met groot seremonie – “Bon Appetit!”. Enigiets minder as dit, en daar sal kak wees!
Die tipe poephol wat sit en die honderde kinders wat by Spur rond baljaar aangluur en sy kop skud vir die duidelike gebrek aan klas en stemmigheid.
Ek moes nou die oggend aanhoor “JUST BRING ME MY FUCKING TOAST!”. Dit is nie dat ek ‘n romantiese ontbyt verwag het nie. My kinders was saam aan die tafel, die kos het opgedaag en net toe ek my verwonder daaraan dat hulle onthou het ek vat my cappuccino met ‘froff’, wholewheat toast en sunny-side up eiers, breek die grootste doos in Gauteng my droom aan skerwe met “I know I said I didn’t want toast, but I changed my mind……. JUST BRING ME MY FUCKING TOAST!”. Is dit nodig om my ontbyt te versuur omdat hy te deur die kak was om te besef hy soek toast saam met sy ontbyt!? Hulle bring toast in-fokken-elkgeval – jy moet spesifiek spesifiseer dat jy nie fokken toast wil hê nie, anders bring hulle vir jou fokken toast, jou fokken poephol.
Eers het ek sit en kook – die gedagte dat hy so tosser is – en toe begin die belaglikheid van die situasie by my in sink – ‘n volgroeide man wat sy moer so liederlik pluk vir sy medemens, vir wat mos nou eintlik ooglopend sy eie deur-die-kakgeit is. Toe maak ek en my vrou ‘n punt daarvan om elke nou en dan om te loer en te lag en giggel. Hy het toe nie sy ontbyt klaar geëet nie, ek hoop ek is deels verantwoordelik daarvoor.
Daar was ook ‘n poephol wat ‘n halfuur, en ek oordryf nie, ‘n halfuur foon gesprek begin het die oomblik toe sy steak arriveer. Toe hy klaar is met die oproep, en die eerste hap steak vat, wip hy sy gat onmiddellik. Hoe durf die lae bliksems vir hom koue steak bring!? Hy kak die waiter, die bestuurder en die eienaar stink uit. Hoe meer die arme waiter probeer verduidelik dat hy ‘n warm steak afgelewer het, hoe meer kak die ou in sy broek. Hulle het uiteindelik vir hom ‘n nuwe een gebring en hy het hom dikbek afgewurg, en elke nou en dan weer die waiter laat weet hoeveel van ‘n moroon en slapgat hy is. Net met moeite kan jy aan ‘n groter drol dink.
Dit voel vir my so onregverdig! Ek wens daar was ‘n manier waarop sulke mense op ‘n swart lys geplaas kon word of iets. “O, jammer meneer, ons sien jy is op die swartlys as ‘n reeks-oortreder restaurant doos vlak 4. Ons kan jou bedien maar jy moet ‘n heffing van 50% betaal, en ons grootste personeellid – ontmoet vir Thabo, hy speel liga sokker in sy spaar tyd - mag jou in die eiers skop sodra jy oor enigiets kla teen meer as 60 desibel. Rook of nie-rook?”.
Ons het jou $%# kat gekry!
Ek het my gat af gelag vir die foto! “Not very friendly” – ha ha ha ha!
Ons het jou donderse kat, hy het al my kinders en die hond aangeval, en hy kak net waar hy wil. Kom haal hom asseblief gou!
Te veel tyd op die internet?
Ek sit nou die dag op die troon en lees een van my vrou se tydskrifte – my selfoon se battery was pap – en ek sien toe ‘n artikel wat my vaagweg interesseer, maar ek soek net die sinnetjie wat my vraag antwoord. Daar was so breukdeel van ‘n sekonde waar ek “Ctrl F” wou druk om die sleutelwoord te soek.
Dit was waar ek besef het ek spandeer te veel bliksemse tyd op die internet.
Daar is ‘n albino koerantverkoper so 3km van my huis af by wie ek elke oggend verby ry. Ek kry die arme mens so bliksems jammer! Kan jy aan ‘n kakker beroep dink vir iemand wat albinisme het as om heeldag in die son te staan en koerante verkoop? Dit is seker net “Sonbed Toets Tegnikus” wat moontlik erger kan wees. Koop mense nog koerante? Ek lees maar al my nuus op die internet. Jy kan sommer ‘n ‘Google alert’ skep as jy een nuus sage wil dophou, dan kom die nuus sommer na jou toe – gratis. Die ou spook so by my dat ek nou die dag sommer R10 betaal het vir my koerant in plaas van die skamele R4.50, sodat die bediende iets het om die ruite mee skoon te maak.
Miskien moet ek tog die koerant weer ‘n kans gee? Dit sal my forseer om bietjie vir ‘n paar minute rustig te sit en fokus in plaas daarvan om soos ‘n Ritalin kandidaat vyf nuwe ‘tabs’ oop te maak in Firefox en so vlugtig oor die goed te skandeer soos ‘n stout skoolseun wat vergeet het om te leer vir die Biologie toets.
PS: My pa het, toe ek nog ‘n skool laaitie was, ons bediende oortuig dat hy glo ons oorkantste bure het ‘n wit ou wat in hulle tuin werk. “Ek sien die Du Plessis’ maak baie geld Martha. Hulle het ‘n mlungu wat in die tuin werk! Hoeveel dink jy is dit om ‘n mlungu te kry vir die tuin? Ek dink dit is baie” sou my pa vir haar sê. “HAU! Hy is nie die mlungu nie baas! Hy is die albino!” was Martha se verontwaardigde antwoord, elke blerrie keer.







