Julle almal het nou al die video gesien, maar selfs die bokke het nou net mooi genoeg gehad van die fietsryers
Manlike Gesondheid
Nuwer is beter, maar aai, die goeie ou dae……
So ruk terug het dit onder my aandag gekom dat daar mense is wat glo “nuwer is beter”. Hoe kan jy aan so ooglopend verkeerde idee klou? Ja, ek stem saam, dit is waar met baie dinge. Ek onthou die eerste 1 megapixel kamera – die foto’s was so kak dat jy met die grootste graagte pornografie kon versprei op hom. “Sies, waar druk sy haar elmboog, is dit nie seer EN onmoontlik nie? O, wag ek sien, dit is ‘n kussing wat daar agter uitsteek”. Die nuwe iPhone is seker beter as die een voor hom, en, nee, ek wil nie sien hoe oulik die katjie naar word as jy die foon skud nie, en ek stel nie belang hoe ek sou lyk as ek ‘n 70 jarige swart man was nie.
Baie dinge is deesdae kakker. Karre word deesdae gebou om weggegooi te word as jy klaar is. Mense word amper ‘n kwart van ‘n kar se prys gekwoteer om ‘n turbo te vervang. Niemand gaan ‘n ’03 Kia Picanto liefdevol restoureer nie, hy gaan ashoop toe. Ons laai liedjies een een af op ons selfone in uiters kak gehalte en kry nooit die kans om daardie versteekte ‘classics’ op kant B te luister nie. Van daai B-kant liedjies maak my nou nog hartseer/verlief/verlore/kwaad/opgewonde voel, maar hulle word sommer nie eers geskryf deesdae nie. Elke bliksemse liedjie moet ‘n irriterende ‘hook’ hê wat aanhoudend herhaal sodat mense hom tog net dadelik download vir R15 en nie net aflaai van hulle tjommies se fone af nie. Terloops, hoe de donder kan iemand wat al ‘n jaar lank sing ‘n ‘Best of’ album uitbring? Die slaafse navolging van gerieflikheid gaan ons nog duur te staan kom. Dit voel of daar soveel minder ervarings is deesdae. Die verskeidenheid stront wat ons moet of wil doen word minder, tog is ons meer besig as ooit tevore.
Nou klink ek dalk soos iemand wat glo in die ‘goeie ou dae’. Dit is net so hoop stomende stoelgang. Ek het laas week gehoor van ‘n dominee wat homself en sy hele gemeente so 35 jaar terug in die skande gesteek het, en deur sommige ouderlinge gevra is om te loop, nadat hy soos iemand wat deur bose geeste beset is, op ‘n Sondag geswem het! Hy het sy walglike sedeloosheid probeer verdoesel deur dit in die nag te doen, maar ‘n oplettende diaken het die gedrag gewaar en die regte ding gedoen!
As jy 15 jaar gelede verveeld was op ‘n Sondag middag moes jy gaan slaap, want daar was fokkol op TV nie, en net ‘n hospitaal was oop op ‘n Sondag want hulle was kwytgeskeld van die hel omdat hulle mense genees.
Ek glo vas dit was nog altyd net so kak, en net so lekker soos dit nou is. Die lewe het so manier om homself uit te balanseer. Ja, ‘n inboorling in ‘n reënwoud moet dalk elke dag veg om oorlewing, terwyl hy probeer onthou om nooit, ooit te suig aan ‘n blaaspyp met ‘n gifpyl in nie en watter paddas is nou weer lekker om te braai en watter se gif kan 200 mense dood maak in 20 minute, MAAR hy weet nie eers wie is Steve Hofmeyr nie!
Help, negi kenirs om kos ti gee, suk werk, kos
Ek sou baie graag wou weet hoeveel bedelaars wat skryf dat hulle vir werk soek, regtig soek vir werk. Dit sou interessant wees om hulle verskeie posisies aan te bied en te sien of hulle enige van die werke aanvaar. Sou jou gemiddelde ou byvoorbeeld gaan vir ‘n tuin werk of sou hy eers val boereworsrolletjie verkoper. Om eerlik te wees, ek glo 99% van hulle stel regtig nie belang in werk nie, en sodra hulle uitwerk dat 10 ure in ‘n bakkende son en marineer in uitlaatgasse eintlik kakker as ‘n werk is, gaan hulle heeltemal ophou om enigiets te doen. Ken enige van julle iemand wat by ‘n robot staan? Ken jy dalk iemand wat iemand ken wat by ‘n robot bedel? Ek het so verlangse konneksie met karwagte – ‘n eks-aangenome kind van my suster se biologiese pa se familie (ek besef dit klink soos ‘n sepie en daar kort net geheueverlies voor ek dit dalk kan verkoop as draaiboek). Ek is BAIE nuuskierig!
Hoe noem jy hom?
Ek moet nou noodgedwonge dink aan baba name. Jy kan geluk sê, maar dit voel verkeerd, want ek het eintlik net die minimum gedoen.
Meeste mans besluit om hierdie tipe ding aan hulle vrou oor te laat, en dit werk seker gewoonlik nie sleg uit nie. Die enigste haakplek is dat my vrou vreemde smaak het as dit by name kom. Ons stem saam oor ‘n klomp, en dan sal sy met “Abel” vorendag kom! Nou vra ek jou met trane in my oë, hoe vernoem jy jou kind na die eerste vegetariër wat dood gebliksem is omdat hy so donders aangegaan het daaroor!? “Meat is murder Kain! Diere het net soveel regte as mense Kain. Hoe kan jy iets eet wat ‘n ma het Kain? Kain, Kain, Kain!? O toggie, wat maak jy met daardie klip Kain?”
Jou naam maak jou wie jy is. Enige ma wat haar kind Jayden, Ayden, Kynan, Keenan of Reegan noem, is hoogs moontlik ‘n tiener moeder, en so bietjie kommin. Dit volg dus dat die kind ‘n regte klein kak gaan wees, want ma wil Vrydag gaan dans, en boetie moet homself nou maar ‘entertain’. Veral as dit Jayden Potgieter is, of Reegan Breytenbach.
Daar is natuurlik familie name, maar wie kan in hierdie tye sy arme kind opsaal met Albertus Albrecht Petrus of iets dergliks. Ek sidder as ek dink aan die byname – Albertus klink seker nie kak nie, en ek sou kon werk vir iemand met die naam Albertus, maar ek sal nie ‘n donder vir ‘n Bertie “Meneer” noem nie.
Jy kry natuurlik die mense wat glo hoe meer umlaute, aksente en skaars letters soos ‘z’ en ‘x’ hulle in ‘n naam kan sit, hoe meer eksoties en spesiaal gaan die kind wees. Ek het nuus vir jou liewe ouer, Elxèndrônizanï gaan jou haat sodra sy besef hoeveel kak jy aangejaag het met haar naam. Miskien is jy gelukkig en sy is net so groot niksgewoond tappit soos jy, en sy hou dalk van die naam.
Dan is daar ‘sukkelaar’ name. As ek byvoorbeeld die naam “Angie” hoor, weet ek die arme vrou het ‘n alkoholis vir ‘n man, of sy is deur ‘n swaar egskeiding en sien haar kinders net elke tweede naweek of iets. Daar is dalk iewers ‘n Angie met wie dit befok gaan, maar ek het haar nog nie ontmoet nie. Almal kak altyd op ‘n Dawie se kop. ‘n Dawie is altyd so bietjie moeg vir die lewe, maar hy weet hy moet aangaan, ter wille van die kinders, en hy is moontlik getroud met ‘n Samantha, en almal weet ‘n Samantha is ‘n regte ou hoë onderhoud heks van ‘n vrou.
Nou ja, ten minste weet ek waarvan ek NIE hou nie, so nou sif ek net deur die name wat nie heeltemal kak is nie.



