Ek sit nou die dag op die troon en lees een van my vrou se tydskrifte – my selfoon se battery was pap – en ek sien toe ‘n artikel wat my vaagweg interesseer, maar ek soek net die sinnetjie wat my vraag antwoord. Daar was so breukdeel van ‘n sekonde waar ek “Ctrl F” wou druk om die sleutelwoord te soek.
Dit was waar ek besef het ek spandeer te veel bliksemse tyd op die internet.
Daar is ‘n albino koerantverkoper so 3km van my huis af by wie ek elke oggend verby ry. Ek kry die arme mens so bliksems jammer! Kan jy aan ‘n kakker beroep dink vir iemand wat albinisme het as om heeldag in die son te staan en koerante verkoop? Dit is seker net “Sonbed Toets Tegnikus” wat moontlik erger kan wees. Koop mense nog koerante? Ek lees maar al my nuus op die internet. Jy kan sommer ‘n ‘Google alert’ skep as jy een nuus sage wil dophou, dan kom die nuus sommer na jou toe – gratis. Die ou spook so by my dat ek nou die dag sommer R10 betaal het vir my koerant in plaas van die skamele R4.50, sodat die bediende iets het om die ruite mee skoon te maak.
Miskien moet ek tog die koerant weer ‘n kans gee? Dit sal my forseer om bietjie vir ‘n paar minute rustig te sit en fokus in plaas daarvan om soos ‘n Ritalin kandidaat vyf nuwe ‘tabs’ oop te maak in Firefox en so vlugtig oor die goed te skandeer soos ‘n stout skoolseun wat vergeet het om te leer vir die Biologie toets.
PS: My pa het, toe ek nog ‘n skool laaitie was, ons bediende oortuig dat hy glo ons oorkantste bure het ‘n wit ou wat in hulle tuin werk. “Ek sien die Du Plessis’ maak baie geld Martha. Hulle het ‘n mlungu wat in die tuin werk! Hoeveel dink jy is dit om ‘n mlungu te kry vir die tuin? Ek dink dit is baie” sou my pa vir haar sê. “HAU! Hy is nie die mlungu nie baas! Hy is die albino!” was Martha se verontwaardigde antwoord, elke blerrie keer.



