Verkeersirkel, vier-rigting stop, daar IS ‘n verskil.

*

Ek is nou raad op. Geheel en al, bliksems raad op. So hele paar jaar terug het hulle hier in Johannesburg begin om ‘traffic calming zones’ in te sit op paaie wat nooit gemaak was vir swaar verkeer nie. As ‘n Johannesburger een ding kan reg doen, is dit ‘n korter pad kry. So toe raak van hierdie stil voorstedelike paadjies skielik ‘highways’ met gereelde landspoed rekord aanslae. Goed soos “Vinnigste Uno Turbo met gewone petrol” en “Vinnigste Hi-Ace met 20 of meer passasiers in ‘n beboude gebied”.

My probleem is nie die ‘traffic calming zones’ nie, al is dit alles behalwe kalmerend, dit is die sirkels. Toe ek my lisensie gekry het in ‘n Model-T Ford, het hulle my geleer dat jy by ‘n sirkel toegee aan verkeer wat van regs af nader, of reeds in die sirkel is. Amper elke keer wat ek die reël toepas word ek opgetoeter hier van links af deur ‘n rimpelkring wat glo dit was sy fokken beurt. Dan waai ek nou maar ‘Sorrie’ en laat hom (maar gewoonlik haar) ry. Soms probeer ek die vier-rigting stop benadering, maar dan is daar een van die ander vyf mense wat die reël ken agter my, en dan lê hy op sy toeter en gil iets soos “Dom Doos!” by sy ruit uit.

Nou weet ek nie meer nie, as ek die reël gaan toepas gaan iemand my in my moer in ry, as ek hom nie toepas nie lyk ek vir die ander vyf ouens in Gauteng soos ‘n onnosele poephol. Daar beantwoord ek my eie vraag eintlik, ek gaan soos die res van julle dom drolle ook nie die reël nakom nie, maar in my diepste binneste sal ek altyd weet ek is slimmer.

*Nog snaakse padtekens

Be Sociable, Share!

Geen.

You can leave a response, or trackback from your own site.

2 Responses to “Verkeersirkel, vier-rigting stop, daar IS ‘n verskil.”

  1. Trilwillem Trilwillem says:

    Dit is ‘n moerse frustrasie…maar ek het ook maar die roete begin volg deur dit as ‘n gewone 4-rigting te benader. Die laaste keer wat ek ‘n taxi-drywer moes “mooi” wys hoe werk ‘n verkeersirkel het ek maar besluit ek sal ook maar een van die dom ken-nie-die-padreels-nie mense namaak.

  2. Worsbeursie Worsbeursie says:

    Haai, een van die vyf ouens wat die reël ken. Hoe voel dit om slimmer as 98.7 van die besturende populasie te wees?

Leave a Reply

*

Subscribe to RSS Feed